Ek het nog nie tyd gehad vir behoorlik skryf vandag nie...ek is sedert 8.00 vanoggend saam met Paul (foto van sy tonnel hier links) aan die rondry en organiseer aan die groente-tonnels wat ons volgende naweek saam met 'n paar mense wil oprig. Projek 1: By Hannah's Home ('n kinderhuis vir VIGS-wesies) en Projek 2: By Cosmo Christina Centre (die gemeente waar oom Jos leraar is).
Ons het by Cosmo City begin deur saam met Gift (die terreinopsigter van Zimbabwe) te besin oor hoe groot en waar die tonnels die beste sal werk. Gift het reeds 'n goeie groentetuin aan die gang en verkoop al kool aan die plaaslike mense. Ons hoop om twee tonnels van 15x4meter te gaan oprig saam met die FGK en Cosmo Christian Centre se gemeenterade as 'n kenmekaar en spanbou geleentheid.
Daarna was dit planne optrek en bou-materiaal bereken in die hoop op 'n ordentlike voorlegging en moontlike borgskappe.
Jy kan egter die wonderlikste tonnel-struktuur oprig maar die groei-krag lê grotendeels in die grond en Hannah en Cosmo se grond kort bietjie vertroeteling: Dankie aan die Raubenheimers (oom Naas & Tannie Hermien, Madelein & Johan) by wie ek 'n bakkievrag perdemis kon gaan oplaai....
Ek kan lank hierop uitbrei...dat die koninkryk hopelik so tussen stories, mis-aanry en PVC-konstruksies sal kom...Wat ek eintlik wil doen is om jou uit te nooi: Saterdag 29 Aug gaan ons na Hannah's Home om die harde werk van die grondvoorberei te doen - ons vertrek 8.00 vanaf die kerkgebou. Dit sal wonderlik wees as jy wil kom saamwerk. Hannah se stories, haar liefde vir die kinders en haar ewige glimlag raak jou op plekke wat jy al vergeet het in jou hart bestaan. Ons gaan pik-slaan, omspit, sweet...en mekaar en die kinders ontmoet...en hopelik as ons mooi kyk die koninkryk sien kom...
Laat weet indien jy wil deel word van hierdie storie!!!! Laat weet indien jy dalk weet van 'n makliker patent om grond te eg of iets?!!! pieterr@fontainebleau.ws
No comments:
Post a Comment