Dit is Maandag en ons begin met reflekteer en saam praat oor 'n nuwe beweging: ons beweging voor God. Coram Deo - leef voor die aangesig van God - is 'n antieke manier om dit te verwoord. Om dit eenvoudig te probeer verwoord: Hoe sal 'n lewe lyk wat die heeltyd rekening hou met die unieke teenwoordigheid en die unieke karakter van God?
Daar is tog altyd, wanneer ons oor God praat, die gròòt afstand...Nie 'n ruimtelike afstand van ons is hier en God is doer ver nie. 'n Afstand in ons wese - God is God en ons bly mens (al wil ons soms soos die Grieks-Romeinse mense onsself as gode verhef). Dit bring 'n afstand in hoe ons na die lewe kyk, na onsself kyk, na God kyk...Dit bring 'n afstand tussen hoe God optree en hoe ons optree. Soos NP Van Wyk Louw skryf: "U het geskep in sterrehelderte en ons skryf na in stof." Om dus oor God te praat is altyd van sublieme aard en daarom is kuns dalk maar die beste manier om iets oor God te probeer sê want kuns is nooit klaar gepraat nie...
Voorbeeld1: In Jes 55:8-9 praat God met Sy kinders "My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes."
Hier (vgl. 55:7) gaan dit spesifiek oor God se genade wat nooit ophou nie; oor God wat altyd maar weer vergewe en weer oor begin; dat daar geen einde aan Sy liefde is nie...
Spontaan wil my menslike natuur hier sê 'Ja maar...erens moet ons darem reageer...erens gaan God die streep trek...erens hou hierdie oorbegin op...' Tog lyk dit nie so wanneer ek na God se storie met Israel en die dissipels en die kerk kyk nie... Ons vergifnis en stories van oorbegin is altyd begrens deur 'n sekere versadigingspunt...ons vergifnis het meestal 'n stukkie aanmoediging nodig voordat dit werking tree...
Gevaar 1: Ons wil 'n greep op God kry. (ek hoop jy begryp!) Dit is mos wat ons doen: ons bestudeer, evalueer, kry al die feite agtermekaar en ons bemeester 'n vakgebied/tegniek/mens en dan word hierdie kennis/vaardigheid/mens 'n artikel/objek wat ons aanwend om ons vooropgestelde doel/ideaal te bereik. Bemeester en bewonder verskil - selfs al bevat albei 'n element van bestudeer. Bemeester en bewonder het dalk eenvoudig net 'n motief-verskil?!
Gevaar 2: Ons lees tekste oor God, ons praat oor Hom en soek preke om ons 'padkos' of party sal selfs sê 'pitkos' te gee - want ons leef met die gevaar om ons 'siel' te vermaak en om aangeraak te voel. Luther het skerp op sulke kitsgodsdiens gereageer "Indien jy iets soek wat jou laat beter voel moenie die Christelike geloof probeer nie, drink liewer 'n bottel port dit sal die gewensde uitwerking hê." Waar Godsopenbaring gebeur - selfs al is dit oor jare - is dit altyd 'n transformerende/herskeppende beweging wat dikwels met vorminspyn gepaard gaan.
Vervolgens dus 'n paar aanhalings en dalk later vandag 'n kunswerk of twee:
"We live in a time when faith is thin, because our aching for what is above and beyond us has been anaesthetized and our capacity for wonder reduced to clever tricks." - Alan Jones
"We are in a war between dullness and astonishment." - Robert Capon
"Christianity is no longer life changing it is life enhancing." - Michael Yaconelli
"Risk is indispensable to any significant life, nowhere more clearly than in the life of the spirit. "The goal of faith is not to create a set of immutable, rationalized, precisely defined and defendable beliefs to preserve forever. It is to recover a relationship with God." - Dan Taylor
"Man is, and is human, as he performs this act of responsibility,offering himself as the response to the Word of God,and conducting, shaping, and expressing himself as an answer to it.He is, and is man, as he does this." - Karl Barth
Ten slotte 'n lied wat Paulus (Rom 11:33-36) vervlans het onder die invloed van Jes 40:13; Job 15:8, 41:2; Jer 23:18. Ek sukkel steeds om hierdie woorde behoorlik te verstaan:
"O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!
Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!
"Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?
Wie bewys Hom 'n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?"
Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.
Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid!
Amen."
Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!
"Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?
Wie bewys Hom 'n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?"
Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.
Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid!
Amen."
Mag die misterie jou gryp wanneer jy buig voor die Onbegryplike en mag dit een of ander kreet van verwondering in jou los laat!
Sela!
No comments:
Post a Comment