Die Nederlanders noem 'n Latté 'Koffie verkeerd' en dit verwys na die koffie-prentjie wat so ietwat omgedop voorkom: 'n breë melklaag onder in die beker waarop 'n smaller strook koffie rus. Dit lyk na 'n verkeerde prentjie.
Daar is nog 'n prentjie wat vir my iets van ons kerk-begrip verklap en dit is dalk 'n prentjie wat ons al meer sal moet omdop...
Stap jy deur vele Katedraal of Kapel oor die grootste dele van die wêreld word jy dikwels oorweldig deur die ligsketse van die loodglaskunstenaars wat eendimensionele lig omtower in 'n storie van hoe die Lig eens op 'n tyd grondgevat het in mense se lewens.
Stap jy deur die kalender, gebou, eredienste en gebedslysies van vele Gemeente of Geloofsgroepie oor die grootste dele van die wêreld word jy dikwels oorweldig deur die konsentrasie lig na binnekant. Hierdie verskynsel laat my wonder: Is die prentjie van die kerk nie verkeerd nie? Moet die Lig-stories van loodglasvensters en kerk-aktiwiteite nie juis eerder na buitekant wys nie? Hoekom word die lig-boodskappe oor-en-oor vir dìè aan die binnekant gewys en die wat buite om die kerk stap sien net vaal stukkies glas aanmekaar gevlans. Mense kan sien hierdie glas-prentjie wil iets sê maar dis maar dof en vaag en kan jy nie regtig kop-of-stert van die prentjie uitmaak nie.
Mense stap dus soos in hierdie skildery van Van Gogh (Church at Auvers-sur-Oise) dalk maar eerder net verby hierdie 'black hole' wat alle lig absorberend inslurp asof dit is waarvoor lig bedoel is om te wees. Dit lyk na hierdie wonderlike plek - maar hier is geen ingang of uitgang in hierdie gebou nie.
Die uitdaging bly dus nou: Hoe kry ons hierdie lig en lig-prentjies omgedop? Hoe gaan ons hierdie lig-tentoonstelling na buite laat skyn sonder om mense soos 'n klomp springhase te laat voel? Soos die Kaapse gangster vir sy pas-bekeerde vriend sê 'Dim net bietjie djou brights my ou, ek kan nie check wa' ekke moet loep'ie!'
Nog nooit so daaraan gedink nie!
ReplyDelete