Raak jy ook al meer kriewelrig soos ons voortgaan op hierdie ontdekkingstog van God se musiek, ritmes en danse? Aanvanklik was die geestelike vertroeteling lekker snoesig as ons hoor God kies ons, beweeg hier binne ons en ons leef altyd voor Sy aangesig. Selfs die heerlike herinnering aan die geloofsmentors in ons lewens en God se beweging in die gemeente was nogal 'n knus ervaring...maar toe kom ons by die vreemdeling...en nou by die gemeenskap...en 'n mens wil vlug van God se knaende moeilike roepingsvrae...
Hierdie 24/7/365 opskrif van vanoggend het my laat dink aan my ouerskap: Anouk sny tande en slaap sleg, eet sleg, doek sleg en ek kan nie my rug hierop draai nie. Sarike is 4 en volgens die ontwikkelingsielkunde besig om te ontdek dat sy 'n individu is los van my en Jana - en dit is amper erger as die tienerfase (met soortgelyke kenmerke) want jy kan nie in gesprek oor dinge tree nie...sy't mood-swings soos die petrolprys! Ek beplan 'n toer in Afrika en skielik moet ek die malaria-zones in ag neem want met kinders onder ses voeter jy nie met malaria nie...'n Vriend (alleenloper) kuier die naweek by ons en ek wil hom graag die stad gaan wys, maar die kinders gaan nie regitg die apartheidsmuseum, of Jazz in New Town, of Hillbrow. of SAB se bier-toer geniet nie...
Ek hoop jy kry die punt: Wanneer jy kinders het verander jou dagboek, jou beplanning, jou drome, jou budget, jou adres, jou sosiale gewoontes........ jou self! Jy dink nuut oor jou hele lewe. Is dit nie dalk wat sou gebeur wanneer jy jou weer as een met die gemeenskap sien nie? Alles verander: jou manier van dink, droom, beplan, begroot, bid.......jou self!
Dalk is dit hoekom hierdie gemeenskapsding so vrek moeilik is - dit vra jou volle self, soos ouerskap! Daar is nie 'n pause-knoppie nie...dit is 24/7-365!
Jy is of aan die gemeenskap verbind of jy is nie - daar is nie hier die tussen-in plek nie.
No comments:
Post a Comment