Tuesday, August 25, 2009

Metronomiese Vryheid?!


Stel jou voor Billy Joel sit voor die klavier tydens 'n vertoning in 'n tipiese 'Piano man' styl taverne. Na hy almal hartlik verwelkom het met 'n spontane opmerking of twee, net voor hy die eerste klanke uit die klawers van die klavier vry laat, trek hy die arm van die metronoom een kant toe en hy wag voor hy die strakke pas van die metronoom met sy hele lyf aanvoel...Tik--Tak--Tik--Tak--Tik--Tak... en dan eers begin hy saam met die metronoom 'It's nine o clock on a Saturday...'

Veronderstel die lewe werk so metronoomagtig...veral by die plek waar jy in jou pajamas wil dans!?


Dit is Dinsdagaand en ek is al van 18:00 terug by die kantoor en aan die werk...Nee, ek het nie vanaand 'n vergadering of 'n afspraak met iemand spesifiek nie maar ek het genoeg teologiese werk (lees, preek maak, liturgie uitwerk, blog) om te doen...nee, ek werk ook nie vanaf vanoggend 8uur reg deur nie. Ek het 14:30 die kinders gaan oplaai en saam met Jana en hulle 'n plan met die hoenders en die hase (ons nuutste toevoeging tot die stadsboerdery) se hokke gemaak want Bittergal (ons miniatuur doberman-worshond-brak) kan nie die nuwe intrekkers verdra nie; verder het ons nuwe saailinge vir ons groente-tonnel gemaak en 'n paar bome gesnoei...

Nou is ek terug by die kantoor en aan die werk. 'Hoekom sit jy nie by die huis op jou skootrekenaar en werk nie?' sou jy dalk wou vra. Want dit gaan oor hierdie ritme ding wat ons vandag oor na-dink. Die gedagte dat die ritme by my mense bekend behoort te wees:

Ek en Jana is nie een vreeslik georden in ons daaglikse leefstyl nie. Ons verkies die spontane, op-die-ingewing-van-die-oomblik dinge wat nie fyn vooraf beplan is nie. Ons hou nie van roetine of dagboeke nie - maar nou is dit nie net meer ons nie. Nou het ons kinders en in meeste van die opvoedkundige handleidings en gesprekke word die idee van 'n roetine vir kleuters en peuters as die ideaal voorgehou. Hulle soek 'n bekende ritme, dit gee sekuriteit, dit help gedrag, dit leer lewensorde of -ritme, dit skep dissipline... Ek probeer dus my dagboek in 'n sekere werkbare ritme tussen die bediening en die huis te kry want anders gebeur die ritme ding nooit nie en is daar min 'bekendheid' vir die kinders, vir my, vir Jana en vir die ons-twee in ons verhouding.


Ek lees in die HAT roe'ti'ne. 1. Gewone, reëlmatige orde...gereëlde orde van werk: Volgens 'n vasgestelde roetine werk...2. Vaste gewoonte... en eintlik lees ek vervelig, sleur, droog, voorspelbaar, vaal, klinies, boring...Tog kom ek al meer agter hierdie is nie net nog 'n foefie-teorie in die opvoedkundige topverkopers nie. 'n Vaste voorspelbare ritme help selfs om ruimtes van vryheid en spontaniteit te skep. Dit skep sekerheid by almal in ons gesin en skielik besluit òns oor hoe ons lewe lyk en is ons nie die spreekwoordelike skippie wat deur golwe rondgevoeter word tot ons eendag op die rotse loop nie...


Dit klink so maklik - maar dit is nie! Dit is soos om 'n slegte gewoonte te los en 'n nuwe gesonde gewoonte aan te leer...dit vra dissipline, ondersteuning, hulp, wilskrag...met die hoop om eendag te sien hierdie dieet help, hierdie gesondheid lyk beter, hierdie leefstyl is meer volhoubaar...Dit skep selfs frustrasie by van die mense rondom jou soos ouens wat wil T-bone braai en dan, met hul aankoms, hoor die gaste is vegetariërs!
Terug by Billy Joel en die metronoom: Ek lees eendag 'n artikel oor verskillende musiekgenres waarin kitaarspelers kan spesialiseer en in die artikel maak 'n musiekant die opmerking dat Jazz-opleiding die mees gevorde opleiding is wat 'n mens kan kry en dat dit ook die meeste dissipline verg. Met die eerste oogopslag wonder 'n mens (as jy self nie 'n kitaarspeler is nie) nogal hieroor: Jazz lyk dan so vry en ongekontroleerd dat woorde soos gevorderd en gedissiplineerd nie mooi in die prentjie inpas nie. Die verdere ondersoek maak vir my meer sin: hoe meer vryheid jy met jou instrument wil bemeester hoe meer dissipline het jy nodig - dis nou as jy goeie musiek saa met ander wil maak. Dit is wanneer die metronoom (die bekende ingeoefende ritme) in jou hart gegraveer word dat jy vrylik daarmee kan inkleur.
Ek wonder hoe lank Billy Joel/Eric Clapton se metronomiese opleiding - formeel en informeel - was voor hul so vry kon wees omdat die ritme vir hulle bekend was...dit raak nog meer gekompliseerd wanneer jy die ritme van drie of vier of twee ander moet sinkroniseer met jou ritme...
Hoe gaan jy die ritme bekend maak vir jou en jou mense...het jy raad...?

No comments:

Post a Comment