Thursday, August 27, 2009

Intimiteit?

in'tiem', 1. Van, betreffende die diepste inwendigste aard; diepgeleë, intrinsiek...2. Diep in iemand se binneste aanwesig of daaruit voortvloeiend; innig... Ons sukkel om die begrip intiem te verstaan of daaroor te praat - wat nog van leef. Ons gedagte dwaal altyd na die seksuele kant (die laaste van die HAT se 5 verklarings van intiem). Ons (die drive thru, sms, kitskoffie, mikrogolf mense) se verhoudings het weer daardie 'diepste inwendigste aard' nodig.

Ek het saam met 'n Nederlander, Jan Konijnenberg, in Engeland gewerk. Nagskof by 'n sopkombuis vir dwelm & alkoholverslaafdes en enige ander straatbewoners wat die Engelse winter wou ontvlug. In die midernagtelike ure het ek en Jan in ons moedertale probeer kommunikeer - hy op hoogholands en ek in soete afrikaans. Jan het my gereeld in die rede geval, wanneer ek te veel en veral te vinnig praat, met: 'Langzamer, Pieterman. Langzamer.' Om by die diepste inwendige aard van ons self en ons verhoudings te kom sal ons dalk

stadiger moet praat,

minder moet sê,

meer van die regte goed moet begin sê,

die goed wat saak maak,

daardie identiteitsgoed...

Die uitdaging van hierdie verby die oppervlak verhoudings - van intimiteit is: een persoon kan nie intiem met 'n ander persoon wees nie. Intimiteit vra altyd 'n wederkerigheid: Ons is intiem met mekaar. Nie, ek is intiem met jou nie. MEKAAR!
Dit stel ons voor 'n moeilike kwessie: Wie maak die eerste move?! Hoe doen 'n ou dit...met jou man/vrou...kinders...ouers...vriend/vriendin...suster/broer...? Hulle gaan dalk dink jy raak nou bietjie vreemd...Hierdie is dus die ideale geleentheid om met al hierdie betekenisvolle ander in jou lewe in verbinding te tree en vir hulle te sê "__________die dominee het my hierdie week die opdrag gegee om vir jou te vra of ons nie 'n afspraak kan maak om oor die 'diepste inwendigste aard' van ons verhouding te gesels nie." Dan sal hulle ten minste dink ek is vreemd en as hulle sien jy is taamlik ernstig hieroor dalk vir 'n slag verby die rugby-uitslag, kinders, werk, ekonomie, weer, mode... met jou gesels.
Hier begin die proses eers...waar dit gaan uitkom weet niemand nie...of jul by 'n intieme fase in jul verhouding gaan kom sal net tyd en jul soeke daarna wys...dit bly die misterie van verhoudings...

No comments:

Post a Comment