[JAMMER EK KOM NOU EERS BY DIE REKENAAR UIT - EK SAL MAAR VOOR DIE HOENDERS MOET KRAAI WANT AS DIE DAG LOOP DAN HARDLOOP SKRYF-TYD UIT.
Vanoggend se dagrefleksie uit die inSYNC boekie kom uit Ps 139 en dit word as 'n wonderlike belofte voorgehou: die gedagte dat God oral is, daarom alles weet en nogtans by ons bly. Die emosie waarmee ek egter gekonfronteer word is die van 139:6 'Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.'
Die foto wat ek hier ingelas het kom vanaf 'n webgesprek deur 'n agnostikus en spot hy eintlik met verskillende dele van ons geloof. Die badkamer-angle het my nog nooit vreeslik gepla nie - ek glo God het meer as genoeg ander goed waarop Hy Sy oog wil hou.
Tog word die porseleinbak wat ons mensheid ontbloot (die toilet in die prentjie), die metafoor van 'n klomp ander privaat goed wat ek eerder sou verkies dat God nie daarvan moes bewus wees nie. Veral wanneer dit kom by my motiewe, my gedagtes, my twyfel, my worstel, my begeertes... Waar ons in hierdie week met God se beweging in die self besig is, gebeur daar hierdie ongemaklike gewaarwording dat die self nie eers regtig aan my behoort nie. Ek self besit nie my self nie. (sjoe - ek moet nog mooi dink wat ek regtig hier sê!) Dawid het iets hiervan geskryf 'U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.' en die gedagte is versmorend want ek wou nog nooit besit word nie.
Vanuit die oorgelewerde prentjie van God as die streng skoolhoof wat rondloop om te kyk dat kinders net nie te veel pret behoort te hê nie - het ek God se alomteenwoordigheid nog altyd (in die vroeë addolosensie) verstaan as 'n spioenerende teenwoordigheid. 'n Verkeerskonstabel-prentjie: God is hier erens naby my verskuil en dan vang hy my uit wanneer ek durf sekere grense oorsteek en natuurlik is daar dan die boete en die skuldgevoel. Hierdie grense (wat nie oorskry moes word nie) was natuurlik altyd getrek deur die Godsvaders van ons omgewing, wat ook die kerkvaders, die nasionaliteitvaders, die taalvaders, die kultuurvaders, die seksualiteitsvaders, die politieke vaders...was en die grense het my baie verwar soos wat ek al meer met die Woord self gekonfronteer is en die ontdekking dat die grense wat die Bybel teken - veel eerder die van 'n dansbaan van die lewe is.
Kan die gedagte van God se alomteenwoordigheid ander prentjies in ons los maak as die uitvang en skuldgevoel prentjie? Kan Jesus se woorde/prentjies soos in Joh 15 ons help om anders te dink oor die God waarvan ons nie kan ontvlug nie? Kan ons selfs by 'n punt kom (porselein-ontbloting en al) wat ons kan sê ons wil Hom nie ontvlug nie: Hy bedreig nie my vryheid nie Hy verryk dit! In Joh 15:4 sê Jesus 'Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.'
Die 'bly in My' vertaal nie so ryk soos die 'woon in My' of selfs die 'leef in My' van sommige Engelse vertalings nie. The Message maak die punt nog skerper 'Live in me. Make your home in me just as I do in you.' Wanneer ek oor die alomteenwoordigheid van God dink word hierdie wederkerige nimmereindige gedagte van: { Bewoon God, God bewoon my } 'n wonderlike misterie. Henri Nouwen skryf hieroor "By choosing us as his preferred dwelling place he invites us to choose him as our preffered dwelling place. This is the mystery of the incarnation."
Dit klink dalk na 'n lekker filosofie-oefening hierdie - maar veronderstel jy onthou elke keer wanneer jy in die spieel kyk dat jy na die 'woonplek van God' kyk...Hoe anders gaan jy nie na jou self begin kyk nie? Gaan skryf met 'n kleur-merker of lipstiffie op jou spieël 'Die woonplek van God' Kyk gereeld daarna...kyk verby die hare en grimmering in jou eie oë...sê dit dalk soos 'n mantra 'n paar keer oor-en-oor...bid dit...glo dit...leef dit...
No comments:
Post a Comment