Wednesday, August 26, 2009

Kreupel Tuiste


Een van die taktiese skuiwe in baie van die selfhelpboeke van ons tyd is 'surround yourself with great people, achievers!' en hierdie paradigma spoel selfs oor na ons familie en vriendskapsverhoudings. Gelukkig kan ons nie ons familie kies nie - hulle word aan ons gegee: die sosiale-kreupeles, die kultuur-kreupeles, die waarde-kreupels, die taal-kreupeles en al... Dit is goed om so gekonfronteer te wees met mense wat jy nie uit keuse een mee sou wou wees nie - want die ooglopende kreupeles het nog altyd mense wat in ontkenning leef oor hul eie kreupelheid gehelp om die masker te laat val - om op 'n vreemde manier tuis te kom.


Ons loop met die ongeskrewe vraag in ons agterkop: Watse waarde kan hierdie persoon tot my lewe voeg? Is dit dalk iemand met wie ek meer tyd moet spandeer? Is dit dalk een van die familie of vriende met wie ek my meer moet laat omring?


Ek het 'n baie goeie vriend wat die gedagte by my losgelaat het dat jy nie kan besluit wie jou vriende is nie - jy kan hoogstens besluit vir wie jy 'n vriend wil wees. Dawid besluit om vir Mefiboset 'n vriend te wees. Om vir hom 'n liefdesruimte (gesed in die Hebreeus) te skep om as vlugtende kreupeling tuis te kan wees.


Mefiboset en Dawid se storie herinner my weer aan my eie mankheid en tog sou mens dink dat mankes plek behoort te hê vir ander se mankheid maar ons probeer teen alle koste ons mankheid verdoesel selfs vir onsself. Die mankes in ons samelewing word gou uitgeskuif want ons het nie tyd vir hulle nie. Dit gebeur in ons gesinne, families en vriendekringe ook.


'n Storie uit ons tyd om die punt te illustreer: Onthou julle die Chinese meisie by die afgelope Olimpiese spele wat tydens die opening-seremonie so wonderskoon gesing het. Sy was 'n mimiek-kunstenaar, 'n fake! Die dogtertjie met die wonderlike stem het nie die voorkoms gehad wat die Chinese aan die wêreld wou wys nie (sy was nie lelik nie, net tè gewoon) en daarom kry hulle toe 'n mode-pop-gesiggie, wat weer nie mooi genoeg kon sing nie. Dis die wêreld waarin ons leef en ons moet versigtig wees om te dink dat ons anders is.

Lirieke: 'Fix you' van Coldplay


When you try your best, but you don't succeed
When you get what you want, but not what you need
When you feel so tired, but you can't sleep
Stuck in reverse

And the tears come streaming down on your face
When you lose something you can't replace
When you love someone, but it goes to waste
Could it be worse?
Lights will guide you home
And ignite your bones
And I will try to fix you

And high up above or down below
When you're too in love to let it go
If you never try you'll never know
Just what you're worth
Lights will guide you home
And ignite your bones
And I will try to fix you

Tears stream down on your face
When you lose something you cannot replace
Tears stream down on your face
And I...

Tears stream down on your face
I promise you I will learn from my mistakes
Tears stream down your face
And I...
Lights will guide you home
And ignite your bones
And I will try to fix you

Musiek-video 'Fix you' van Cold Play

Mag jy die volgende woorde vir jou mense beliggaam.

Tuesday, August 25, 2009

Metronomiese Vryheid?!


Stel jou voor Billy Joel sit voor die klavier tydens 'n vertoning in 'n tipiese 'Piano man' styl taverne. Na hy almal hartlik verwelkom het met 'n spontane opmerking of twee, net voor hy die eerste klanke uit die klawers van die klavier vry laat, trek hy die arm van die metronoom een kant toe en hy wag voor hy die strakke pas van die metronoom met sy hele lyf aanvoel...Tik--Tak--Tik--Tak--Tik--Tak... en dan eers begin hy saam met die metronoom 'It's nine o clock on a Saturday...'

Veronderstel die lewe werk so metronoomagtig...veral by die plek waar jy in jou pajamas wil dans!?


Dit is Dinsdagaand en ek is al van 18:00 terug by die kantoor en aan die werk...Nee, ek het nie vanaand 'n vergadering of 'n afspraak met iemand spesifiek nie maar ek het genoeg teologiese werk (lees, preek maak, liturgie uitwerk, blog) om te doen...nee, ek werk ook nie vanaf vanoggend 8uur reg deur nie. Ek het 14:30 die kinders gaan oplaai en saam met Jana en hulle 'n plan met die hoenders en die hase (ons nuutste toevoeging tot die stadsboerdery) se hokke gemaak want Bittergal (ons miniatuur doberman-worshond-brak) kan nie die nuwe intrekkers verdra nie; verder het ons nuwe saailinge vir ons groente-tonnel gemaak en 'n paar bome gesnoei...

Nou is ek terug by die kantoor en aan die werk. 'Hoekom sit jy nie by die huis op jou skootrekenaar en werk nie?' sou jy dalk wou vra. Want dit gaan oor hierdie ritme ding wat ons vandag oor na-dink. Die gedagte dat die ritme by my mense bekend behoort te wees:

Ek en Jana is nie een vreeslik georden in ons daaglikse leefstyl nie. Ons verkies die spontane, op-die-ingewing-van-die-oomblik dinge wat nie fyn vooraf beplan is nie. Ons hou nie van roetine of dagboeke nie - maar nou is dit nie net meer ons nie. Nou het ons kinders en in meeste van die opvoedkundige handleidings en gesprekke word die idee van 'n roetine vir kleuters en peuters as die ideaal voorgehou. Hulle soek 'n bekende ritme, dit gee sekuriteit, dit help gedrag, dit leer lewensorde of -ritme, dit skep dissipline... Ek probeer dus my dagboek in 'n sekere werkbare ritme tussen die bediening en die huis te kry want anders gebeur die ritme ding nooit nie en is daar min 'bekendheid' vir die kinders, vir my, vir Jana en vir die ons-twee in ons verhouding.


Ek lees in die HAT roe'ti'ne. 1. Gewone, reëlmatige orde...gereëlde orde van werk: Volgens 'n vasgestelde roetine werk...2. Vaste gewoonte... en eintlik lees ek vervelig, sleur, droog, voorspelbaar, vaal, klinies, boring...Tog kom ek al meer agter hierdie is nie net nog 'n foefie-teorie in die opvoedkundige topverkopers nie. 'n Vaste voorspelbare ritme help selfs om ruimtes van vryheid en spontaniteit te skep. Dit skep sekerheid by almal in ons gesin en skielik besluit òns oor hoe ons lewe lyk en is ons nie die spreekwoordelike skippie wat deur golwe rondgevoeter word tot ons eendag op die rotse loop nie...


Dit klink so maklik - maar dit is nie! Dit is soos om 'n slegte gewoonte te los en 'n nuwe gesonde gewoonte aan te leer...dit vra dissipline, ondersteuning, hulp, wilskrag...met die hoop om eendag te sien hierdie dieet help, hierdie gesondheid lyk beter, hierdie leefstyl is meer volhoubaar...Dit skep selfs frustrasie by van die mense rondom jou soos ouens wat wil T-bone braai en dan, met hul aankoms, hoor die gaste is vegetariërs!
Terug by Billy Joel en die metronoom: Ek lees eendag 'n artikel oor verskillende musiekgenres waarin kitaarspelers kan spesialiseer en in die artikel maak 'n musiekant die opmerking dat Jazz-opleiding die mees gevorde opleiding is wat 'n mens kan kry en dat dit ook die meeste dissipline verg. Met die eerste oogopslag wonder 'n mens (as jy self nie 'n kitaarspeler is nie) nogal hieroor: Jazz lyk dan so vry en ongekontroleerd dat woorde soos gevorderd en gedissiplineerd nie mooi in die prentjie inpas nie. Die verdere ondersoek maak vir my meer sin: hoe meer vryheid jy met jou instrument wil bemeester hoe meer dissipline het jy nodig - dis nou as jy goeie musiek saa met ander wil maak. Dit is wanneer die metronoom (die bekende ingeoefende ritme) in jou hart gegraveer word dat jy vrylik daarmee kan inkleur.
Ek wonder hoe lank Billy Joel/Eric Clapton se metronomiese opleiding - formeel en informeel - was voor hul so vry kon wees omdat die ritme vir hulle bekend was...dit raak nog meer gekompliseerd wanneer jy die ritme van drie of vier of twee ander moet sinkroniseer met jou ritme...
Hoe gaan jy die ritme bekend maak vir jou en jou mense...het jy raad...?

Monday, August 24, 2009

Pajama-plekke


Ek skryf meer omslagtig in die weekinleiding dat: die grootste invloed op jou lewe kom van die mense naby aan jou & die grootste invloed wat jy ooit kan hê is op die mense aan wie jy naby is.

Hoe lyk die naby-plekke (dalk moet ons eerder praat van naby-verhoudings) waar die potensiaal bestaan vir sulke wederkerige vorming? Wanneer kom 'n mens regtig naby aan iemand? Wanneer laat jy iemand regtig naby aan jou kom? 'n Mens kan soms jare lank saam leef sonder om ooit naby aan mekaar te kom - soos twee treinspore wat ewig langs mekaar loop, altyd saam, maar nooit naby aan mekaar kom nie... Hierdie behoefte aan nabyheid bestaan in elke (normaal funksionerende) persoon en hierdie behoefte gaan nooit weg nie - selfs al het jy hierdie skeinbare nabyheid in jou lewe. Daarom moet ons hieroor praat: Die soeke na nabyheid duur altyd voort - wanneer dit nie werklik bestaan in jou lewe nie - en hierdie soeke kan ontaard...


Kyk gerus weer die Suid-Afrikaanse film 'Paljas'. 'n Storie van baie afrikaner gesinne: by mekaar maar nie naby mekaar nie. Party praat die heeltyd en sê niks en ander bly weer doodstil te bang om iets te sê want netnou bars die vuurspuwende berg van emosie en opgekroptheid oop. Ons voorgee om naby mekaar te wees word dikwels eers stopgesit deur erge konflik of tragedie in ons verhouding - dan stort die grense in een en verdwyn die grimmering wat ons verhouding in stand hou. Al wat pla is dat ons tydens konflik/tragedie so deur ons emosie oorheers word dat ons sukkel om op 'n konstruktiewe manier hierdie nabyheid te hanteer en word dit maklik 'n tweegeveg (in plaas van 'n dans)!


Ons het inderdaad die pajama-dans ruimte nodig: Daardie plekke waar ek met onbegrensde egtheid kan leef en aanvaar kan word vir wie ek is op hierdie stadium van my lewe 12:15 op 'n Saterdagmiddag, nog steeds in my pajamabroek wat soos 'n sak aan my hang!


Ouers sal veral moet leer om sulke ruimtes te wees vir hul kinders...ek sal dit moet leer...



KANTAANTEKENING: [Vanoggend se dagstukkie het vir my so bietjie die essensie van Rut se storie verloor met die fokus op die 'beloning' kant (en ek weet ek is 'n bietjie oorsensitief oor ons beloningsugtigheid). Die mooi in teksversie wat uitgesonder word is die gedagte van Rut wat onder God se vleuels kom skuil het. Rut het nie regtig direk onder God se vleuels kom skuil nie, sy't by Naomi en uiteindelik by Boas kom skuil en eers later ontdek dat God skuilplek gee deur haar by plekke/mense van nabyheid laat tuiskom.]