Dit is Vrydag en ek reflekteer vir 'n oomblik oor die verskeidenheid mense, verhoudings, bedieninge, aksies, aktiwiteite, afsprake, groepe, gesprekke wat in ons gemeente leef. Daar is 'n spitsverkeer van bedrywigheid...Wanneer mens besef hoe baie mense van mekaar verskil - a.g.v. blootstelling, passie, denke, omstandighede, fokus -wonder ek hoe bring 'n mens al hierdie bewegings inSYNC met mekaar om saam as een liggaam te beweeg inSYNC met mekaar en God se beweging.
Natuurlik is daar die ritme van God se hartklop wat ons polsend in dieselfde beweging wil bring, die musiek van die evangelie wat ons almal op loop wil neem - maar erens is die choreograaf nodig om al hierdie energie en gawe in een beweging (vol diversiteit) te rangskik. 'n Choreograaf kan nie die artistieke vryheid en unieke vertolking van die danser smoor deur dit as 'n koekiedrukker op hul af te dwing nie. Die choreograaf vertel stories en inspireer met voorbeelde van hoe hierdie dans dalk kan lyk wanneer die verskillende dansers dit verinnerlik en vertolk sodra die musiek begin.
Vir 'n tyd lank het mense die besigheidstaal van 'Visie' ook binne die kerk begin gebruik en elke gemeente moes 'n Gemeente-visie opstel. Ons verkies al die laaste jaar om eerder te praat van 'Roeping' want dit kommunikeer iets anders. Visie word gebore uit 'n paar mense wat in dieselfde rigting wil kyk en o.g.v 'n paar oortuigings glo dit is die rigting waarin hulle moet beweeg. Dit is dus 'n proses wat gesentreer word rondom: tyd, plek en mense. Roeping wil agterkom wat is God se 'visie' en hoe kan ons, met ons spesifieke gawes en identiteit op hierdie spesifieke plek en tydstip by hierdie droom van God aansluit. Roeping is dus 'n proses wat gesentreer word rondom luister na God (die Een wat ons stuur), ons konteks (die plek waarheen Hy ons stuur) en ons gawes (die vaardighede waarmee Hy ons stuur). Roeping bly altyd iets kommunikeer van verhoudings: Daar is Een wat roep en daar is die geroepenes. Visie is 'n bietjie een-dimensioneel....
FGK se choreograaf klink as volg:
FGK Roeping
Ons is geroep om saam met God te leef
en te werk waar Hy besig is om
Sy wêreld nuut te maak.
FGK Roeping
Ons is geroep om saam met God te leef
en te werk waar Hy besig is om
Sy wêreld nuut te maak.
Ons hoop is dat alle bedieninge, alle groepe, alle aksies, alle eredienste en elke gesindheid van elke gemeentelid altyd ons beweging langs hierdie lyn sal vertolk. Ons sal nog lank moet praat oor wat dit beteken...dalk probeer ek later vandag die gesprek voortsit...





